Tuesday, November 3, 2009

Uit my tuin

Hy kyk my skeef aan, die kalender. Dis November. Ek voel naar. My doen-lysie is nog nie eers halfpad voltooi nie. Eish…

Ek dink diep. Die rook trek behoorlik. Ek besef my seen in oorvloed. My gesondheid is uitstekend. Ek het geleer om meer te let go en net te wees - te geniet waar ek nóú is. Wanneer ek wel daarmee sukkel, vang die genade-net my betyds. Maar die meeste van als het ek dit gevind: verhoudinge + liefde x genade = TYD². Juis dit wat ons (dink ons) nie het nie. Langs my lewenspad hierdie jaar het pragtige bont blomme gegroei; almal met sagte vroue-name.

Op ‘n grondpaadjie na links, ‘n paar groen onkruide met geel bloeisels; manne met sterk karakter! Almal is so uniek, gesaai op my enkelvoetpad. Ek het vasgesteek by ‘n paar chilli-situasies en ervaar dat om eerder genade te gee, baie meer belonend is. Ek het gesien hoe versoening ‘n harde kokosneut-kop oopkraak en ryk voedsame melk daaruit vloei. So om ‘n draai het ek ‘n rooksein gesien, ‘n gekneusde roosplant probeer verbind. Daar was ook ‘n mooi-rooi granaat vriendskap wat later as truksvy-met-skil, pynlik verteer het. Ek het gehoor hoe my hart my lei: do not only follow in His footsteps, but also His stops…

Ek het baie gehuil oor dinge wat ek nie alleen kan verander nie. Ons land is maar een daarvan maar ek besef dat Hy wat alwetend is, besig is met ‘n groot iets. The earth is His footstool… fear not for I am with you, I uphold you with my righthand… ‘‘by die naam geroep’ sê Hy. By een t-aanstluiting het ek gevind dat besluitneming soms meer uitdagend kan wees as wat ek wou erken. Daar het die heilige Gees my ontmoet in die koelte en gesê sanctify them by the truth... ja, die waarheid maak vry en ek het reg(s) gedraai.

Ek het dors geword in die tuin van 2009 en by stille waters van rus uitgespan. Daar het ek myself gevind en ek het lekker met haar gesels! ‘n Vrot pampoen en stukkende skoen het my oog gevestig op hoeveel ek het in die kas en aan die lyf. Die verbleikte lappop op ‘n hopie by die trekker, het my laat besef hoe belangrik keuses is. ‘n Wilgerlat het my boud gepiets sodat ek moes omdraai. Ek het iemand gesien wat stadiger beweeg, nie altyd verstaan soos ek nie, ook nie sien soos ek nie. Die wind het kom fluister mercy and loving kindness.

Dit maar net ‘n paar oomblikke ondervind in my tuin van hierdie jaar. Ek is dankbaar vir die Wind wat gereeld ‘n paar spinnerakke weggewaai het. Ook die Bries wat saggies oor my hand gespeel het. Ek kyk op na die blou van my tuin se tooisel en ek sien skoon, wye ooptes – dis die genade van die Heer so wyd en dit strek tot 31 Desember… en al die dae daarna. Ek het by die boom van lewe gesmul aan heerlike vet-rooi appels van wyshede en insig. Dan en wan was daar ‘n alwyn te vinde waarvan die dik sap ‘n seerplek kon heel.

En hier waar ek sit met die onweer wat brom, vind ek hoe als net volmaak bymekaar kom: nou vir die reën wat voed en skoonwas. Nuwe groen lewe is om die draai in die vorm van 2010 en ek sien uit na al die nuwe ontkieming nog nie sigbaar.

Mag jy ook solank terugkyk in jou tuin en die vrotterige pruime wat gis, sowel as verbruinde piesangskille, raaksien as tuin-bestandele wat jou bemes tot ‘n groener jy. Mag jy met vrede en vooruitsig jou wandel voortsit deur jou lewenstuin – die toekoms. Mag die som hierbo vir jou tot stilte roep en leer.

AppelDruppel

No comments:

Post a Comment