Ek en ‘n vriend gesels gister oor hoe moeilik dit soms is om te bepaal wanneer jy iemand moet help. Dit klink eenvoudig – die konsep om iemand wat jy sien in nood is, te help. Maar dit is nie altyd so eenvoudig nie, want ‘n mens weet nie altyd of jy regtig help, en of jy eintlik van die wal af in die sloot in help nie!
Dit laat my terugdink aan mense wat ek al probeer help het in my lewe. Wat ek agterkom, as ek mooi dink oor elkeen, is dat dié wat reeds besig was om hulself te help op daardie punt toe ek gestuur gevoel het om my hulp aan te bied, die ouens was wat die meeste baat gevind het uit my helpende hand. Hulle was die ouens wat eintlik in elk geval self uit hul verknorsing sou kon opstaan, al het niemand kom help nie. Hulle was besig om ‘n pad te stap met God. Dalk het die pad ‘n paar lesse ingesluit, lesse wat geleer moes word, soos wat Hy in sy wysheid op ons almal se pad plaas. Die hulp van my kant af was maar ‘n bietjie ekstra wind in hul seile. Dalk meer vir myself as vir hulle. Daarteenoor, was die ouens wat nie reeds besig was om hulself te help nie, die ouens wat ook nie uit hul verknorsing gekom het nadat hulp aangebied is nie. Dis die ouens wat geglo het dat hulp hulle toekom, en dat dit mense om hulle se plig was om hulle uit die sloot uit te help. ‘n Sloot waarin hulle (meestal) hulself gekry het, en waaruit hulle nie regtig wóú klim nie, al het iemand ‘n hand uitgereik.
Wat ek ook duidelik ervaar het en wat belangrik is om te noem, was die ekstra wind in my eie seile elke keer wat ek met ‘n blye hart uitgereik het en gehelp het. Dit is altyd ‘n voorreg om te kán gee. Daardeur erken ek hoe geseënd ekself is, en deel ek my seëninge met iemand in nood, of met iemand wat minder het as ek. Dit is heerlik verkwikkend en massiewelik verrykend, want die vreugde wat die gewer ontvang uit die daad van gee, is groter as die vreugde van die ontvanger. Altyd. Dit voel amper ‘n bietjie skelm, soos ‘n geheim wat jy net kan ontdek as jy leer om jou hand oop te maak.
Han 20:35: Onthou die woorde van die Here Jesus. Hy het self gesê: “Om te gee, maak 'n mens gelukkiger as om te ontvang."
Ek vermoed dit is ‘n kwessie van dankbaarheid. Dis om te lewe in oorvloed. ‘n ‘Mindset’ of oortuiging dat God waarlik weet wat ek nodig het en beslis sal voorsien in al my behoeftes. En Hy sál. Hy weet beter, en soms verskil sy tydsberekening drasties van my eie. Maar dit is, sonder uitsondering, altyd perfek. God weet áltyd beter. Hy sien wat ek nog nie kan sien nie.
‘n Pel van my het ‘n jaar of twee terug sy vriend probeer help om (weer) op sy voete te kom. Nadat hy ‘n pad met die ou gestap het oor ‘n tydperk van ‘n jaar (en duisende rande later), het die ou aan beweeg na die volgende Samaritaan wat bereid was om energie en geld op hom te verkwis. Hy was eenvoudig nie van plan om homself te help nie, en daarom sou geen helpende hand hom weer op sy voete kry nie. Die lewe was besig om vir hom ‘n les of twee te leer; om hom sterker te maak. God was besig om met hom te werk, en my vriend se poging het eintlik net die lesse vir ‘n ruk lank uitgestel. En hom duur gekos!
Aan elkeen wat het, sal meer gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar van hom wat nie het nie, sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word. (Mat 25:29)
Sjoe, dit klink bietjie onregverdig, dan nie? Pretty harsh, of hoe? Weet jy, nee. Eintlik glad nie. Hier’s hoe ek dit sien:
Sjoe, dit klink bietjie onregverdig, dan nie? Pretty harsh, of hoe? Weet jy, nee. Eintlik glad nie. Hier’s hoe ek dit sien:
Wanneer jy elke dag in dankbaarheid lewe, fokus jy op God se seëninge. Jy bekyk met oë van dankbaarheid jou lewe en raak bewus van dit wat mooi is en diegene wat vir jou dierbaar is – wat maak dat jou lewe vol liefde is. Die dinge wat vreugde bring in jou lewe – wat maak dat jy glimlag en geliefd voel. Dit word jou oortuiging, ‘n ‘mindset’ van oorvloed – dat daar genoeg is vir almal. Dit wat werklik saak maak, is dinge van ewigheidswaarde. Dit is tipies die dinge wat geld nie kan koop nie, wat handel oor liefde en herstelde verhoudinge. ‘n Slim guru-vriend het my dit onlangs geleer. Bless his soul. Dit het my lewensuitkyk totaal verander. Uit hierdie gedagtes vloei dankbaarheid en nóg meer liefde. Dit maak my sommer baie dankbaar vir die materiële oorvloed wat ek het. En jý het ook oorvloed. Jy het meer as wat jy nodig het wanneer die verhoudinge in jou lewe op liefde gebasseer is. En hoe meer jy daaroor dink, hoe meer tyd jy in jou gedagtegang spandeer aan dankbaarheid vir dit wat jy het, en die liefde wat jou verhoudinge voortbring – hoe meer besef jy dat jy werklik gesëend is. Jy het SO baie om voor dankbaar te wees! Geestelik EN fisies. En wanneer verhoudinge (met God en mense) heel en gesond is, kom die materiële dinge outomaties reg.
Of jy kan jou tyd spandeer daaraan om te fokus op dit wat jy reken jy kort kom. Dit wat jy voel jy behoort te hê en nie het nie – wat God nie wil voorsien nie. Die dinge wat sou maak dat jou lewe beter sou gewees het, maar wat afwesig is en dus veroorsaak dat jou lewe tekort skiet. En hoe meer jy daaraan dink, hoe meer fokus jy op tekortkoming, en hoe meer voel jy tenagekom. Jy voel later onvergenoegd en onvervuld, in stryd met jou omstandighede en met God se plan vir jou. As jy lank genoeg tyd spandeer aan hierdie gedagtes, word dit werklik vir jou so. Jy hét te min. Jy kóm kort. Die lewe skuld jou, big time.
“As I believe, so it shall be for me.”
Ek hou van diere. Hulle is die opregste wesens wat jy kry, want hulle is nie intelligent genoeg om God te bevraagteken nie. Hulle het nie ‘hidden agendas’ nie en sal jou nie in die rug steek nie. Hulle wil ook nooit geld by jou leen nie! Kinders is ook so. Hulle sê ‘n ding soos dit is, en het nog nie almal om hulle (hulself inkluis) in boksies gepak en ge’lable’ nie. Hulle is onskuldig en onbesoedeld van te veel redeneer, maar ook baie magteloos, soos oumense. Ek hou van hulle ook – oumense. My oums was my ‘all time favourite’. Ou mense het nie meer nodig om te probeer beïndruk nie, en hulle het gewoonlik geleer wat regtig belangrik is in die lewe – dat alles eintlik maar aan die einde gaan oor liefde. Hoe lief het jy gehad? Het jy so lief gehad dat dit jou soms seer gemaak het? En kon jy ten spyte van die seer, nogsteeds aanhou liefhê?
Ek hou van diere, kinders, oumense en bome. Ek gee maklik van my tyd en geld vir hulle. Hulle is nie op die wal of in die sloot nie (bome dalk soms). Hulle ís net, in afhanklikheid. Ek dink dat Jesus ook van hulle gehou het toe Hy op aarde was. Daarom is dit vir my lekker om vir hulle hier te wees – ‘n hand te gee waar ek kan, want dis wat Hy nogsteeds doen!
dit is altyd snaaks hoe mense wat rerig hulp nodig, die hulp wat hulle wel kry, so verkeerd toepas.
ReplyDeleteEn ek gaan met jou verskil: ek dink ons hondjie het wel 'n "hidden agenda" ek kan dit sien, in sy oe, hy like dit om ons uit die slaap te hou.
Maar baie waarhede in jou blog, ek like it.