Ek sien hoe mense voor die vlug frons-gesprekke oor selfone voer en voorleggings op laptops beloer. Ek wonder oor die nut van dit als alhoewel ek besef elkeen is uniek met verskillende passies, verpligtinge en drome. Ek wonder hoe gereeld is keuse ter sprake. Nog ‘n deal in die sak, nog 'n reuse ‘iets’ ter bevordering van een of ander bedoelde bydraende faktor in ons korrupte samelewing. Selfverryking is tog aan die orde van die dag. Gee mense enigsins om vir enigiemand wat nié tot hul voordeel gebruik kan word nie?
Ek dink toe sommer dat diegene in die verre sendingvelde, wat hulself en die wereld verpand het, diegene is wat werklike deals betrag of eerder beleef. Diesulkes betaal seker hul prys iewers. En tog is hul waar hul wil wees. Ons geloof word onophoudelik bevraagteken en belaster. Oral waar mens beweeg word God se naam as algemene werkwoord en/of byvoeglike naamwoord gebruik. Hy moet oral inpas en dit sonder posbeskrywing. Sommer net ‘n sêding.
En tog wonder ons hoekom realiteite om ons soos verwarde tolbosse draai. Erens word die werkwoord buite konteks aangehaal, onwettig alweer. Die Naam wat groot krag dra, is die Naam wat minderwaardig agter die verkleinwoord se masker ingedruk word. So probeer die vyand alle waarheid vertrap en die mensdom kyk verby die verkleinering.
Waarom laat Hy dit dan toe? Daar is ‘n goeie skrif oor koring en kaf iewers. Skeiding wat gemaak moet word. The power of His name remains to those who use it in true faith and obedience. That power no man can withstand, lees ek in ‘n e-pos. Krag. Syne. Potent stuff. Dit ontgif en ontkaf.
Ek vind myself saggies prewel: Vader ontdop die koring sodat die kaf-sluier kan wegdryf op die wind. Mag dieselfde wind aspris wydsbeen gaan staan oor al die fronse rondom my. Ontberings, onkunde, ongewild, ongeleerd, onuitgesorteer. Dis dinge wat mense gevange hou en laat frons.
Ontstres. Ontvou. Onthou – Hy is.
AppelDruppel
No comments:
Post a Comment