Anderdag gebeur dit: ek hoor van iemand uiters kosbaar se nood, groot nood. Hul het brood en grondboonbotter gehad, slegs tot Vrydag. Gewone mense, in ons omgewing. Kerkmense, doen-mense, omgee-mense. Geen kos. Geen brandstof vir werksoek. Geen sigbare uitkoms. Baie vrae, maar hul loof God, hul verwag Hom, hul beur vorentoe. Wens ek was so sterk...
Soms het mens nie geld om te gee nie, maar dié keer het ek besef: gee jouself! Gee jou hart, jou oor en wat jy wel kan uitkrap in die kas. Gee om, gee gebed, gee soos Hy. Wat 'n uitdaging in my binneste met die vrae rondom hierdie spesifieke geval. Sulke goeie mense... Dis amper asof jy nie kan glo dat daar regtig soveel nood om jou is nie. En steeds voel hul geseënd omdat hul God verwag. Dis wat saak maak.
Geld wat stom is kan regmaak wat krom is. Vader sal dit moet sorteer. Tog glo ek dat note van waarde uit die hart kom, in die vorm van jouself. Was ek oulik om te help? Geensins, ek het saam beleef en God in hul oë gesien. Leef raak, selfs al is jou sak leeg. Tel op, al het jy nie antwoorde nie. Sit stil en luister net. Verwag God al voel dit laat - Hy is nooit!
Groete,
AppelDruppel
No comments:
Post a Comment