Die vrae wat ons het en die probleme wat ons bespreek, word meerendeels beinvloed deur die westerse wêreld waarin ons leef. Dit maak die bulk van die argumente rondom 'n braaivleis vuur op.
Vat byvoorbeeld die boek wat ek die ander dag by Exclusive Books vir 'n winskopie raakgeloop het. Die titel daarvan is Die omstrede God - bestaan God of nie? Dit beslaan rofweg 538 bladsye se forum posts wat netso vanaf litnet.co.za in boekformaat oorgeplaas is. Die issues wat daarin bespreek word handel nie oor Mohammed vs. Jesus of reinkarnasie vs. die hemel nie. Dit handel oor wetenskap vs. geloof, bewyse vir die bestaan van God, die kwessie van God se betrokkenheid hier op aarde... Vrae en issues wat veral relevant vir westerlinge is.
Christene het nie altyd ewe veel aptyt vir die gesprekke nie. Hulle verkies om te glo wat hulle glo en rustig aan te gaan met hulle lewens. Al die vrae, debatte en argumente verstoor net die vrede en lei in elk geval tot niks konstruktiefs nie.
Tog is dit moeilik om te ignoreer en miskien nie so wys nie.
In 'n onlangse berig in die Beeld word daar vertel van die besoek van 'n prof. Scott McKnight en sy bekommernis oor kerke wat leegloop. Volgens McKnight is die stroom jongmense wat Amerikaanse kerke verlaat nou so groot dat dit die voortbestaan van die kerk oor ’n geslag of wat in die gedrang kan bring. Hy het na die verhale van talle sulke mense gaan luister en bevind daar is vyf faktore wat baie mense se Christelike oortuigings in ’n krisis laat beland het:
- Die rigiede leer dat die Bybel onfeilbaar is. Volgens hom berus dit op ’n foutiewe leer by kerke dat die Bybel as’t ware deur God aan die Bybelskrywers gedikteer is. Mense wat die Bybel dan self bestudeer, kom dan later met ’n skok agter dat daar baie van die menslikheid van die Bybelskrywers in hul geskrifte te sien is.
- Die botsing tussen die wetenskap en geloof, spesifiek waar kerke leer Genesis vertel presies hoe die wêreld ontstaan het.
- Die manier waarop Christene en die kerk leef. Hy het verwys na die skandale van seksuele misbruik in die Rooms-Katolieke Kerk in die VSA en hoe dit sommige mense laat voel het dat hulle nie met integriteit deel van die kerk kon bly nie.
- Die beskouing van die hel. Baie mense kan nie aanvaar dat dit billik is dat God iemand vir ewig straf vir sondes in ’n tydelike lewe van miskien 75 jaar nie. Hulle vra of die straf nie by die oortreding moet pas nie.
- Die “God van die Bybel” wat dikwels voorgehou word, skrik baie mense ook af. Daar word onder meer geredeneer dat as God almagtig is, hy nie goed kan wees nie, anders sou die wêreld nie so vol kwaad gewees het nie. En as hy goed is, kan hy nie almagtig wees nie, want anders sou hy die boosheid gekeer het.
Die probleme wat mense, volgens McKnight, met God en kerk het, is tipiese westerse probleme. Die hele kwessie rondom die onfeilbaarheid van die Bybel, die botsing tussen wetenskap en geloof, straf en die hel en die vraag of God werklik 'n God van liefde genoem kan word, is westerse issues gedryf deur 'n westerse lewens en wêreld beskouing. En dit het, soos McKnight bewys, 'n impak op Christene se ervaring van hulle geloof.
The Flat Earth Society is 'n gespreksgroep waar ons mekaar die ruimte gee om te gesels, selfs oor 'n geloof wat nie meer sin maak nie. Flat Blog wil onder andere die tipe van gesprekke aanhelp deur inligting te gee wat ons in staat stel om konstruktief te gesels.So hoe nou? Dalk is dit raadsaam om in ons hantering van die gesprek oorsigtelik na ons westerse samelewing se manier van dink te gaan kyk. Verstaan ons iets daarvan, verstaan ons dalk ook baie meer van die vrae waarmee ons rondloop.
Daar is geen werklike botsing tussen wat in die Bybel staan en die Wetenskap nie. Mense verstaan maar net nie waaroor die Bybel gaan en dit is waar die probleem lê. Voorbeeld: Sarah en Hagar staan vir twee verbonde. Twee seuns staan vir;1. om God lief te hê bo almal en 2. jou naaste soos jouself. Tien seuns stel die tien geboeie voor.
ReplyDeleteWollie, dis nou interessant. Jy het in een sin die probleem geidentifiseer wat maak dat die mensdom worstel met hul konsep oor God en geloof, kompleet met voorbeelde. You've got it all figured out. Ek is regtig bly dit werk vir jou, ou maat. Al probleem wat ek daarmee het, is dat dit geen sin maak vir my nie. Hoegenaamd nie! Glad en geheel nie! Twee verbonde? Tien seuns? Wat op aarde?!
ReplyDeleteLees tog Gal 4 v 24 en verder en let op dat Christus ons vry maak van die "Wet". Het jy die betekenis van die name van die tien en twee seuns opgekyk, terwyl jy die ou (tien geboeie) en nuwe verbond, in gedagte hou. Moontlik sal dit dan vir jou meer sin maak.
ReplyDeleteHet jy nou die aarde verlaat aangesien daar nou geen verdere terugvoer is nie.
ReplyDelete