Hulle lyk soos klein venstertjies, die kiekies van vervloë dae, die Polaroids. 'n Kykie terug deur hulle laat jou gedagtes vinnig in trurat oorskakel: soms beter dae, dalk nie. Ander herinner aan goeie voorkomste - letterlik! Maar die kiekies wat my fasineer is die van familie; almal saam gegroepeer soos 'n troppie plaasdiere, uiters ernstig gefokus op die kameralens. Ander getuig van (skoon) vakansies sonder heinings, hogere drade of sorge. Those were the days hoor ek iemand sê. Die kiekies word teruggegooi in 'n ou stowwerige boks en diep in 'n laai gestoot.
Wat bedoel ons regtig as ons praat van daardie dae? Is dit die wonderlike vry gemaksone van veiligheid waarna soveel verlang? Ek verlang ook. Die lae pryse, baie spasie vir myle aaneen of dalk die regering van die tyd? Wat sou die korrekte antwoord hierop wees of sal ons eerder bly staar soos na die kameralens vir die perfekte voorbehoud aan die wêreld daarbuite? Hoe lyk die venster van jou hart en wie sal daardeur wíl loer?
Wanneer ons kiekies opdelf is dit asof ‘n ander wêreld open vanuit ‘n agtergeblewe dossier, êrens geboks in jou geheue. Almal het ‘n storie maar so min word vertel. Ons elkeen kan deur kiekies die draad van ons lewensreis aanmekaar weef en tog versuim so baie om dit te doen. Waarom bêre ons hierdie vensters na ons menswees so ver weg? Miskien maak dit seer of miskien is die erkentenis van ‘n tydvak so anders as nou, net te mismoedig.
Ek wens ek kan van die kiekies in my lewe uitvee en helderder inkleur in pastel. Ek wens ek kan elkeen van my lewensherhinneringe. Ek wens ook vir die oop ruimtes, veiligheid en vryheid. Maar as ek dit sou kon doen soos wafferse Back to the Future tydskapsule-fliek, sal my hele storie verander. Ek sou nie kan verstaan van iemand se seer nie, ook nie van alleen wees nie, selfs honger en verstote nie. Ek sal geen begrip kan hê van God se genade en heling nie want dan sou alles net te reg gewees het. Vreemd hierdie gedagte…
Die realiteite om ons beïnvloed verseker ons huidige lewens-venstertjies. Dis net eenvoudig anders as op die Polaroid. Dit maak seer om daarna te kyk en te verlang. Die besef dat ek menslik gesproke al helfte van my lewe geleef het, het ‘n tydjie gelede my siels-venster toegeruk. Hopelik is dit nie meer as helfte nie. Realiteite… dit mag nie my storie verander nie. Ook nie joune nie.
Wat bêre jy daar diep binne in die laai of geel verslete album? Vertel jy jou storie? Het jy al die draad van jou reis gevolg en neergepen op die tafel van jou hart? Het jy gesien en besef dat êrens ‘n hoër en sterker ‘iets’ jou nog bymekaar hou? Die volgende raakvat terme dans konstant tussen my breinlobbe deur:
Vertel iemand hoekom | Tel iemand op | Deel jou storie | Leef iemand raak!
Wednesday, August 12, 2009
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment